Moord, ’n “epidemie” van inbrake by huise en dwelmverwante misdade is dié drie misdaadeuwels wat die inwoners van die Wes-Kaap teister.
In die woonbuurte Durbanville, Montague Gardens, Paardeneiland en die Strand het inbrake by huise ’n “epidemie” geword. Die aantal inbrake wat in dié woonbuurte “buite verhouding toegeneem het”, is volgens Dan Plato, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, die gevolg van dwelmverslaafdes wat inbreek en gesteelde goedere verkoop om hul verslawing aan die gang te hou.
“Kyk ook na woonbuurte soos Monte Vista. Ek glo sommige van ons bendebase het nou in daardie buurte ingetrek en werk van daar af. Nou is dwelmmisbruik oral,” het Plato gesê.
Dwarsoor die Wes-Kaap word weekliks ook tussen 40 en 45 mense vermoor – “sommige weke tot 50”, volgens Plato.
Terselfdertyd word ook tot 120 vroue per week in die Wes-Kaap verkrag.
Plato het Dinsdag op ’n nuuskonferensie gesê die huidige vlaag van onwettige grondbesettings vererger die situasie vir die polisie. In stede daarvan dat beamptes woonbuurte patrolleer en speurwerk doen, verg grondbesetters al hoe meer hul aandag.
Die grondbesetters raak ook al hoe meer gewelddadig en vernietig eiendom.
Volgens ’n verslag wat Dinsdag deur Plato uitgereik is, is die grootste oorsaak van misdaad in die provinsie dwelmmisbruik, armoede en onvoldoende sigbare polisiëring.
Die verslag is saamgestel uit die kommentaar van 2 500 sleutelbetrokkenes in al 150 polisiegebiede dwarsoor die Wes-Kaap en sluit in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), gemeenskapspolisiëringsforums, buurtwagte, staatsdepartemente, besighede, munisipale bestuurders en organisasies sonder winsbejag.
Die meeste van die deelnemers (76%) het aangedui dat hulle snags – tussen 18:00 en 06:00 – onveilig voel.
Plato het gesê dit is verstommend dat minder as 8% van die sake van die 540 bendeverwante moorde wat in een jaar gepleeg is uiteindelik by die hof uitgekom het.
“Ek het met landdroste en regters daaroor gesels en die probleem is dat polisiedossiere nie die basiese bewyse bevat nie. Sedert daar nie meer spesialiseenhede in die polisie is nie, het die kundigheid om ’n basiese saakdossier vir die hof voor te berei net eenvoudig verlore gegaan.”
Die kernprobleem van die polisie in die Wes-Kaap is ’n tekort aan polisiebeamptes. “Van die beamptes sê vir my hulle werk 10, 15, 18 uur per dag en hulle sien net nie meer kans vir hul werk nie,” het Plato gesê.
“By sommige polisiekantore is daar snags vier beamptes aan diens – twee om patrolliewerk te doen en twee agter die toonbank in die aanklagkantoor. By die Klapmuts-polisiekantoor het ons slegs een beampte agter die toonbank gekry,” het Plato gesê.
Volgens Plato kla hy al twee jaar dat daar te min polisiebeamptes in die Wes-Kaap is.
“Ons het tussen 19 500 en 20 000 beamptes. Daar is kleiner provinsies as die Wes-Kaap met tot 30 000 polisiebeamptes.”
Die bestuur van staatsgarages is ook baie swak. Polisievoertuie staan maande lank daar sonder dat herstelwerk gedoen word.
Van die voorstelle om die polisiediens te verbeter, is:
■ Spesialiseenhede moet weer op die been gebring word teen gesinsgeweld, dwelms en seksmisdade. Die SAPD moet ook weer die kinderbeskermingseenheid en eenhede teen bendegeweld en moorde tot stand bring;
■ Vakante poste in die SAPD moet gevul word; en
■ Die SAPD moet meer sigbaar wees om misdade op straat en in bendegeteisterde gebiede te bekamp, veral snags en oor naweke.
6 KOMMENTARE
Die ANC sit agter hierdie misdaad. Hulle het mos gesê hulle gaan die Weskaap onregeerbaar maak. Tony Erenrich en Marius Fransman en hulle trawante, is die orkestreerders.
Wat verwag die regering… die krimineel het dan meer reg as jy en daarom breek hy in en steel soos hy lus het want hy kan mos niks oorkom nie.Die krimineel mag mos nie geskiet word nie al kry jy hom in jou slaapkamer… wat het geword van die woord …privaat eiendom !!!!!! EK IS SOOOOOOO GATVOL !!!!
Die tyd is besig om aan te breek waar Jan Publiek gaan begin om sy eiendom, homself en sy familie gaan beskerm en reg in eie hande gaan neem. Meskien is “resistance” dalk die enigste manier hoe om kriminele af te skrik. Indien die owerhede dit nie kan doen nie moet die publiek dit maar self doen. Maar so kan dit nie aangaan nie.
In die opskrif word na ;’boereworsgordyn’ verwys. Die berig meld niks daaroor nie. Watter streek (indien enige) kan aanspraak maak op die titel?
Erich Goosen- “Boerewors gordyn” is ‘n area wanneer jy kan sê, “Nou kan ons weer Afrikaans praat”! Tussen Johannesburg en Pretoria byvoorbeeld word die Jukskei rivier as die grens beskou! In die Kaap is dit die Noordelike voorstede!
Wou verlede jaar ‘n bruin matrikulant help om tot die polisie mag toe te tree. Daar is reguit gesê, jammer ons moet ongelukkig swart matrikulante inneem in die Wes Kaap. Dalk is regstellende aksie ook een van die redes vir die tekort aan polisie lede waarvan gepraat word?